
Verlede Donderdagaand, 25 Oktober, was die groot bekendstelling in Kaapstad en 4 van die 5 skrywers was daar. Almal behalwe ek. Heng, daar is baie emosies wat gepaard gaan met so iets. Eers dink jy "Dis net 'n launch", maar voor jy kan sê :
Vyf Ses Skerp Mes dan tref die realiteit jou soos die
Vuil Skottelgoed wat al van verlede week af ophoop agv jou besige skedule.
Jy's opgewonde en hartseer gelyktydig. 'n Bittersoet
Hemelhel wat tref. Hard tref.

'n Paar mense het my gevra hoekom ek nie maar 'n plan maak om SA toe te gaan nie. Die lewe in Taiwan werk nie soos by die huis nie. Hier is jy onder so 'n sterk kontrak dat al gaan jou eie bloedfamilie dood, die oë getrek word. Daar is nie gevoel vir so iets nie. Toe ek my baas vertel van die groot dag in my lewe, het sy geglimlag en gesê: "Oh, that's nice. Don't get too famous, because you still have to work here."

Ek is so dankbaar vir die vriende wat ek wel het. Die mense in Taiwan het my baie ondersteun en dan nog boonop al my maats wat ek hier gemaak het hy my trots gaan verteenwoordig in Kaapstad. My ma - of Moemin - soos ek haar noem, was ook daar in my plek. Blykbaar was die geleentheid baie lekker en die skrywers is almal 'n
Goblet Club vol talent. Ek kan nie wag om hulle eendag een vir een te ontmoet nie.
Sodra die skywery die rekeninge eendag betaal, sal ek my bes probeer om by elke geleentheid te wees.
Dis lekker aan hierdie kant van die wêreld, maar soms.. net soms ... té ver Oos.