Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Thursday, January 7, 2010

Boekemakranka

Trisa Hugo bly op Kleimond en een van haar passies is lees. Veral Afrikaanse boeke. Sy het in die laaste paar jaar ongelooflik baie gedoen vir Afrikaanse skrywers en haar forum, Boekmakranka, kry daagliks meer en meer lede wat graag deel oor hulle gunsteling Afrikaanse stories. Boekemakranka het met nog 'n nuwe inisiatief vorendag gekom en dit is om 'n leeslys saam te stel waar mense hulle gunsteling 100 Afrikaanse boeke kan nomineer en kies. Dis dan ook so hoe OOS geland het op die lys en nogal 6de plek verwerf het. Ek was meer geskok as enige iemand anders oor die uitslag en is werklik baie bevoorreg om bloot op die lys te wees.

Trisa het ook 'n onderhoud met my gevoer. Lees gerus hier.

Dankie vir almal wat vir my gestem het en vir die e-posse wat nou en dan inkom van hoe julle die boek geniet het. Dit spoor my regtig aan. Kyk uit vir my nuwe boek in 2010.

Tuesday, April 28, 2009

Daai dae wat ons almal maar kry

Dinsdag die 28ste April is nie 'n dag wat ek graag weer wil beleef as ek hoef nie. Dit het reeds vroeg oggend begin wat ek half verslaap het. Daarna amper 'n ongeluk oppad werk toe deur 'n simpel man wat ons almal amper van die aardkors as wis.  By die werk aangekom en dit was moeilikheid na moeilikheid en ook daarna.  43 grade buite was ook nie iets wat mens se 'mood' veel goed kon doen nie.

Ek het sonder 'n druppel energie na vyf my op rekenaarstoel gaan neerploeg en hier wag 'n boodskap van iemand wat ek glad nie ken nie.  Hanneke van die Kaap vra my of ek die skrywer van OOS is en laat my weet hoe baie sy die boek geniet het en dit al soveel keer oorgelees het.  

Nou dit is oomblikke soos hierdie wat baie meer werd is as al die goud op die planeet. Dit is asof 'n nuwe gees of vuur in mens se are inblaas en asof jy sommer skielik net moed het vir alles wat jy nog moet aanpak.  Dis soms al wat mens nodig het.  Hanneke, baie baie dankie.  Dis mense soos jy wat my inspireer om harder te werk, my sokkies op te trek en nog 'n paar boeke agter my naam te kry.

Jy was soos 'n engel in 'n baie donker storm.

Monday, October 6, 2008

OOS! OOS! Hoera!!


Einde September het OOS sy eerste verjaardag gevier en ek kry nog gereeld boodskappe van mense wat die boek geniet het. Baie dankie daarvoor. 'n Hele paar versoek natuurlik 'n opvolg of 'n nuwe boek. Ek moet dan ook verduidelik dat dit nie so maklik is soos wat dit klink nie. Die proses is lank en 'n uitgewer se tyd is nie dieselfde as 'n skrywer se tyd nie. Maar kyk gerus uit. Wie weet, dalk oor 'n paar maande sien julle nog iets van my op die rak. Vir nou, kan ek trots net aankondig dat my debut baba 'n volle jaar oud is en dit voel steeds so lekker soos die eerste dag om een van hulle te teken.

Friday, May 30, 2008

My eie BOOK TRAILER

Ek het al 'n paar keer vantevore gesien dat mense 'n 'trailer' van hulle boeke op die Net sit. Toe het ek dit goed gedink om een vir OOS ook te skep. Taiwan is so anders as SA en al probeer ek ook hoe verduidelik hoe dit lyk, kan mens nooit 'n presiese idee kry nie... bloot oor die feit dat jy dit nog nooit voorheen gesien het nie. Soos die Stinky Tofu, Betelneut meisies ens.

Kyk gerus en laat weet my wat julle dink.

O ja! Ek't 'n paar fotos ingesit van hoe ek my karakters voorgestel het. Theuns, Wilma en Sarah is daar. En 'n video van presies hoe ek vir Peggy voorgestel het.

Geniet.

Wednesday, May 21, 2008

Aardbewing in China

Dit is hartskeurend om die fotos en video materiaal te sien die afgelope dae wat in China gebeur het. Ek wonder baie hoe mens optel (indien moontnlik) en aangaan met 'n normale lewe daarna? Die stories van mense wat dit wel gemaak het, klink amper asof dit nie kan waar wees nie. Eers hoor ek van 'n man wat sy eie uriene gedrink het om te oorleef. Hy's meer as 170 uur na die aardbewing lewendig gevind. Dan van 'n vrou wat haar eie bloed gedrink het om vloeistof te kon kry. En selfs van twee honde wat hulle einaar se mond bly lek het, sodat sy kon oorleef.

Dit is skrikwekkend wat met ons wêreld aangaan. Daar waar nie natuurlike verwoesting is nie, is mense die oorsaak van soveel moord en dood. Wat word van ons mensdom? En hoekom leer ons nie uit ons voorvaders se foute nie?



Ek het al 'n paar aardbewings in Taiwan beleef. Meer as wat goed was vir my, en vir 'n Saffie soos ek, is dit 'n baie snaakse ervaring. Meeste van ons bly op die 15de vloer. Waarnatoe hardloop jy? Terwyl ek OOS geskryf het, het ek eenkeer 'n aardbewing beleef in my kleuterskool. Ek het daardie kinders so gou moontlik daar uitgekry. Maar nadat OOS klaar geskryf is, het ek op die 26ste Desember 2006 die aand skoolgehou op die 5de vloer. Ek het die kinders net 'n paar minute voorheen vertel dat dit vandag 2 jaar was nadat die Tsunami lande soos Thailand, Indië en Sri Lanka getref het. Een van my studente het gegil "DI ZHEN", wat aardbewing beteken. Ek was nog besig om die woorde "Don't speak Chinese in my class!" op my tong te vorm, toe ek begin van kant tot kant ruk in die klaskamer. Ek het agteroorgetuimel en gelukkig het die witbord my val gebreek. Ek wou die kinders dadelik ontruim en so waar as wraggies kom die Taiwannese sekretaresse opgehardloop en sê ons moet bly sit. Ek was baie omgekrap, want hierdie kinders se lewens was in my hand. 5 minute later was daar wéér 'n naskok, amper net so groot soos die eerste een! Ek het 'n veer gevoel vir die sekretaresse en het dadelik die skool ontruim.



Ek hoop die situasie in China het hulle nou net weer van voor af laat besef hoe noodsaaklik dit is om uit die geboue te kom. Ek kan baie hanteer, maar 35 studente se bloed op my hande is nie iets wat ek wil saam graf toe neem nie.

My gebede gaan uit vir al die mense in China, Myanmar en nou in Suid-Afrika. Mens kan net hoop dat die wêreld 'n beter plek sal raak.

Friday, April 18, 2008

Terug in Taiwan

Ek hou baie van die Afrikaanse weergawe van die woord "jet lag". Die woord 'vlugvoos' stel dit net soveel beter en hierdie keer is ek meer vlugvoos as enige van die vorige kere wat ek hierheen moes vlieg. Dalk is dit die ouderdom, wie weet?

Dit was ongelooflik om vir OOS op die rakke te kon sien gedurende my 3 weke by die huis. Baie dankie vir almal se ondersteuning in die verkope en ook dat julle mense aanbeveel het om die boek te koop en te lees.

Tydens my kuiertjie daar, het Kabous Meiring ook 'n onderhoud met my gedoen vir RSG. Julle kan gerus luister hierna deur op die volgende skakel te kliek.
http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20080415_LEESKRING.mp3
(Luister vanaf min of meer die middel van die potgooi/podcast)

Nou ja, die hel se hekke maak oop as Mei ons hier tref, so hou vir ons duim vas. Taiwan se somers is by verre die onsmaaklikste tyd van die jaar hier. Wens ons maar sterkte toe.

Sunday, March 9, 2008

Wanneer jy die dromme van Mama Afrika hoor roep...

Ek is al vir 27 maande in Taiwan sonder om weer een keer terug te kon keer huis toe. Ons situasies hier werk anders. Kontrakte ook en daarom kon ek vir 'n ruk nog nie terugkeer nie. Maar op 20 Maart vlieg ek bietjie huis toe. Na iets bekends toe. Moeder se kos, my mense, my taal en die natuurprag van SA wat ek mis soos nog nooit tevore nie.

Een van die dinge wat ek die graagste na uitsien is net om vir OOS op 'n boekrak te mag sien. Ek hoor die boek is daar, maar ek wil dit met my eie oë sien. Die babatjie waaraan ek so hard gewerk het vir so lank.

Ongelukkig kan ek nie elkeen op die naam persoonlik bedank vir al julle wonderlike boodskappe en ondersteuning dmv epos en Facebook nie. Dit beteken bitter baie vir my. Ek het geslaag daarin om mense wat nie gereeld lees nie, weer 'n boek te laat optel en ek dink ek het een aspek in OOS goed raakgevat - die basiese aspek van menswees. Mense kon 'relate' met die karakters soos die Engelse sou sê.

Dankie vir julle wat gestem het in die "HET OOS JOU LAAT HUIL?"meningspeiling. Volgens die uitslag het die boek wel 'n paar 'n traan of twee laat pik. Ek's bly die boek kon mense raak.

Nou ja. Jou julle oë op die horison. Want binnekort sal 'n ystervoël neersak met my in sy maag. Afrika, ek kom bietjie kuier.