Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Friday, May 30, 2008

My eie BOOK TRAILER

Ek het al 'n paar keer vantevore gesien dat mense 'n 'trailer' van hulle boeke op die Net sit. Toe het ek dit goed gedink om een vir OOS ook te skep. Taiwan is so anders as SA en al probeer ek ook hoe verduidelik hoe dit lyk, kan mens nooit 'n presiese idee kry nie... bloot oor die feit dat jy dit nog nooit voorheen gesien het nie. Soos die Stinky Tofu, Betelneut meisies ens.

Kyk gerus en laat weet my wat julle dink.

O ja! Ek't 'n paar fotos ingesit van hoe ek my karakters voorgestel het. Theuns, Wilma en Sarah is daar. En 'n video van presies hoe ek vir Peggy voorgestel het.

Geniet.

Wednesday, May 21, 2008

Aardbewing in China

Dit is hartskeurend om die fotos en video materiaal te sien die afgelope dae wat in China gebeur het. Ek wonder baie hoe mens optel (indien moontnlik) en aangaan met 'n normale lewe daarna? Die stories van mense wat dit wel gemaak het, klink amper asof dit nie kan waar wees nie. Eers hoor ek van 'n man wat sy eie uriene gedrink het om te oorleef. Hy's meer as 170 uur na die aardbewing lewendig gevind. Dan van 'n vrou wat haar eie bloed gedrink het om vloeistof te kon kry. En selfs van twee honde wat hulle einaar se mond bly lek het, sodat sy kon oorleef.

Dit is skrikwekkend wat met ons wêreld aangaan. Daar waar nie natuurlike verwoesting is nie, is mense die oorsaak van soveel moord en dood. Wat word van ons mensdom? En hoekom leer ons nie uit ons voorvaders se foute nie?



Ek het al 'n paar aardbewings in Taiwan beleef. Meer as wat goed was vir my, en vir 'n Saffie soos ek, is dit 'n baie snaakse ervaring. Meeste van ons bly op die 15de vloer. Waarnatoe hardloop jy? Terwyl ek OOS geskryf het, het ek eenkeer 'n aardbewing beleef in my kleuterskool. Ek het daardie kinders so gou moontlik daar uitgekry. Maar nadat OOS klaar geskryf is, het ek op die 26ste Desember 2006 die aand skoolgehou op die 5de vloer. Ek het die kinders net 'n paar minute voorheen vertel dat dit vandag 2 jaar was nadat die Tsunami lande soos Thailand, Indië en Sri Lanka getref het. Een van my studente het gegil "DI ZHEN", wat aardbewing beteken. Ek was nog besig om die woorde "Don't speak Chinese in my class!" op my tong te vorm, toe ek begin van kant tot kant ruk in die klaskamer. Ek het agteroorgetuimel en gelukkig het die witbord my val gebreek. Ek wou die kinders dadelik ontruim en so waar as wraggies kom die Taiwannese sekretaresse opgehardloop en sê ons moet bly sit. Ek was baie omgekrap, want hierdie kinders se lewens was in my hand. 5 minute later was daar wéér 'n naskok, amper net so groot soos die eerste een! Ek het 'n veer gevoel vir die sekretaresse en het dadelik die skool ontruim.



Ek hoop die situasie in China het hulle nou net weer van voor af laat besef hoe noodsaaklik dit is om uit die geboue te kom. Ek kan baie hanteer, maar 35 studente se bloed op my hande is nie iets wat ek wil saam graf toe neem nie.

My gebede gaan uit vir al die mense in China, Myanmar en nou in Suid-Afrika. Mens kan net hoop dat die wêreld 'n beter plek sal raak.