Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Monday, October 6, 2008

OOS! OOS! Hoera!!


Einde September het OOS sy eerste verjaardag gevier en ek kry nog gereeld boodskappe van mense wat die boek geniet het. Baie dankie daarvoor. 'n Hele paar versoek natuurlik 'n opvolg of 'n nuwe boek. Ek moet dan ook verduidelik dat dit nie so maklik is soos wat dit klink nie. Die proses is lank en 'n uitgewer se tyd is nie dieselfde as 'n skrywer se tyd nie. Maar kyk gerus uit. Wie weet, dalk oor 'n paar maande sien julle nog iets van my op die rak. Vir nou, kan ek trots net aankondig dat my debut baba 'n volle jaar oud is en dit voel steeds so lekker soos die eerste dag om een van hulle te teken.

Friday, May 30, 2008

My eie BOOK TRAILER

Ek het al 'n paar keer vantevore gesien dat mense 'n 'trailer' van hulle boeke op die Net sit. Toe het ek dit goed gedink om een vir OOS ook te skep. Taiwan is so anders as SA en al probeer ek ook hoe verduidelik hoe dit lyk, kan mens nooit 'n presiese idee kry nie... bloot oor die feit dat jy dit nog nooit voorheen gesien het nie. Soos die Stinky Tofu, Betelneut meisies ens.

Kyk gerus en laat weet my wat julle dink.

O ja! Ek't 'n paar fotos ingesit van hoe ek my karakters voorgestel het. Theuns, Wilma en Sarah is daar. En 'n video van presies hoe ek vir Peggy voorgestel het.

Geniet.

Wednesday, May 21, 2008

Aardbewing in China

Dit is hartskeurend om die fotos en video materiaal te sien die afgelope dae wat in China gebeur het. Ek wonder baie hoe mens optel (indien moontnlik) en aangaan met 'n normale lewe daarna? Die stories van mense wat dit wel gemaak het, klink amper asof dit nie kan waar wees nie. Eers hoor ek van 'n man wat sy eie uriene gedrink het om te oorleef. Hy's meer as 170 uur na die aardbewing lewendig gevind. Dan van 'n vrou wat haar eie bloed gedrink het om vloeistof te kon kry. En selfs van twee honde wat hulle einaar se mond bly lek het, sodat sy kon oorleef.

Dit is skrikwekkend wat met ons wêreld aangaan. Daar waar nie natuurlike verwoesting is nie, is mense die oorsaak van soveel moord en dood. Wat word van ons mensdom? En hoekom leer ons nie uit ons voorvaders se foute nie?



Ek het al 'n paar aardbewings in Taiwan beleef. Meer as wat goed was vir my, en vir 'n Saffie soos ek, is dit 'n baie snaakse ervaring. Meeste van ons bly op die 15de vloer. Waarnatoe hardloop jy? Terwyl ek OOS geskryf het, het ek eenkeer 'n aardbewing beleef in my kleuterskool. Ek het daardie kinders so gou moontlik daar uitgekry. Maar nadat OOS klaar geskryf is, het ek op die 26ste Desember 2006 die aand skoolgehou op die 5de vloer. Ek het die kinders net 'n paar minute voorheen vertel dat dit vandag 2 jaar was nadat die Tsunami lande soos Thailand, Indië en Sri Lanka getref het. Een van my studente het gegil "DI ZHEN", wat aardbewing beteken. Ek was nog besig om die woorde "Don't speak Chinese in my class!" op my tong te vorm, toe ek begin van kant tot kant ruk in die klaskamer. Ek het agteroorgetuimel en gelukkig het die witbord my val gebreek. Ek wou die kinders dadelik ontruim en so waar as wraggies kom die Taiwannese sekretaresse opgehardloop en sê ons moet bly sit. Ek was baie omgekrap, want hierdie kinders se lewens was in my hand. 5 minute later was daar wéér 'n naskok, amper net so groot soos die eerste een! Ek het 'n veer gevoel vir die sekretaresse en het dadelik die skool ontruim.



Ek hoop die situasie in China het hulle nou net weer van voor af laat besef hoe noodsaaklik dit is om uit die geboue te kom. Ek kan baie hanteer, maar 35 studente se bloed op my hande is nie iets wat ek wil saam graf toe neem nie.

My gebede gaan uit vir al die mense in China, Myanmar en nou in Suid-Afrika. Mens kan net hoop dat die wêreld 'n beter plek sal raak.

Friday, April 18, 2008

Terug in Taiwan

Ek hou baie van die Afrikaanse weergawe van die woord "jet lag". Die woord 'vlugvoos' stel dit net soveel beter en hierdie keer is ek meer vlugvoos as enige van die vorige kere wat ek hierheen moes vlieg. Dalk is dit die ouderdom, wie weet?

Dit was ongelooflik om vir OOS op die rakke te kon sien gedurende my 3 weke by die huis. Baie dankie vir almal se ondersteuning in die verkope en ook dat julle mense aanbeveel het om die boek te koop en te lees.

Tydens my kuiertjie daar, het Kabous Meiring ook 'n onderhoud met my gedoen vir RSG. Julle kan gerus luister hierna deur op die volgende skakel te kliek.
http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20080415_LEESKRING.mp3
(Luister vanaf min of meer die middel van die potgooi/podcast)

Nou ja, die hel se hekke maak oop as Mei ons hier tref, so hou vir ons duim vas. Taiwan se somers is by verre die onsmaaklikste tyd van die jaar hier. Wens ons maar sterkte toe.

Sunday, March 9, 2008

Wanneer jy die dromme van Mama Afrika hoor roep...

Ek is al vir 27 maande in Taiwan sonder om weer een keer terug te kon keer huis toe. Ons situasies hier werk anders. Kontrakte ook en daarom kon ek vir 'n ruk nog nie terugkeer nie. Maar op 20 Maart vlieg ek bietjie huis toe. Na iets bekends toe. Moeder se kos, my mense, my taal en die natuurprag van SA wat ek mis soos nog nooit tevore nie.

Een van die dinge wat ek die graagste na uitsien is net om vir OOS op 'n boekrak te mag sien. Ek hoor die boek is daar, maar ek wil dit met my eie oë sien. Die babatjie waaraan ek so hard gewerk het vir so lank.

Ongelukkig kan ek nie elkeen op die naam persoonlik bedank vir al julle wonderlike boodskappe en ondersteuning dmv epos en Facebook nie. Dit beteken bitter baie vir my. Ek het geslaag daarin om mense wat nie gereeld lees nie, weer 'n boek te laat optel en ek dink ek het een aspek in OOS goed raakgevat - die basiese aspek van menswees. Mense kon 'relate' met die karakters soos die Engelse sou sê.

Dankie vir julle wat gestem het in die "HET OOS JOU LAAT HUIL?"meningspeiling. Volgens die uitslag het die boek wel 'n paar 'n traan of twee laat pik. Ek's bly die boek kon mense raak.

Nou ja. Jou julle oë op die horison. Want binnekort sal 'n ystervoël neersak met my in sy maag. Afrika, ek kom bietjie kuier.

Saturday, January 26, 2008

Ek ruik 'n rot!


2008 is ook die "Jaar van die Rot" volgens die Chinese Kalender. Ek wens vir julle almal 'n wonderlike jaar toe. Kom ons hoop hierdie diertjie bring sommer baie nuwe avonture.

Vertaalde Stukke

'n Paar mense het nou al gevra: "Hoekom noem jy jou hoofstukke 'stuk' en nie 'hoofstuk' nie. Ek is nie 'n spoiler nie, maar sodra jy die boek gelees het, sal jy agterkom OOS bestaan uit verskillende STUKKE uit Louis se lewe wat afgespeel word. Dus weet mens net die noodsaaklike stukke.

Jammer Laura en al die ander wie so lank moes wag. Hier is die vertalings van die Chinese karakter stringe in elke Stuk. Let op dat almal 'n Chinese gesegde is wat te make het met die inhoud van daardie spesifieke stuk.


Stuk 1
Direkte Vertaling : ‘n Reis van ‘n duisend myl begin met een tree.

Betekenis: Mens moet soms daardie stap van geloof neem om iets te bereik.


Stuk 2
Direkte Vertaling : Wanneer jy ‘n blom in die mis sien, is dit nooit duidelik nie.
Betekenis: Mens kan nie altyd presies weet wat aangaan, tensy jy die volle prentjie sien nie.

Stuk 3
Direkte Vertaling : Moenie bang wees om stadig te groei nie, wees slegs bang om stil te staan.
Betekenis: Dieselfde betekenis as: ‘n Bewegende klip tel nie mos op nie.

Stuk 4
Direkte Vertaling en Betekenis:
Ons leef vir vandag, en vra nie vrae oor die toekoms nie.

Stuk 5
Direkte Vertaling : Die jakkals sal altyd vriendelik wees met die hoenders.
Betekenis: Dis soms die mees gevaarlike mense wat hulle altyd saam met die onskuldiges verwyl.

Stuk 6
Direkte Vertaling : As die wortels nie ordentlik verwyder word nie, sal die onkruid weer groei as die Lente wind waai.
Betekenis: Om een probleem op te los, is dit nodig om eers die kern van daardie probleem aan te spreek.

Stuk 7
Direkte Vertaling : Hoe meer die wind waai, hoe dikker raak die wolke.
Betekenis: Konflik bou geleidelik so op dat ‘n groot geveg of storm soms die enigste uitweg is.

Stuk 8
Direkte Vertaling en Betekenis: Soms is jy self jou grootste vyand.

Stuk 9
Direkte Vertaling :
‘n Mens se rykdom en blomme het ‘n geneigdheid om hul kleur te verloor.
Betekenis: Alle goeie dinge kom tot ‘n eiende.

Stuk 10
Direkte Vertaling : ‘n Duim tyd is ‘n duim goud, maar jy kan nie ‘n duim goud met ‘n duim tyd koop nie.
Betekenis: Tyd is goud werd, maar al die geld in die wêreld sal nooit tyd kan bekostig nie.

Stuk 11
Direkte Vertaling : Een berg kan nie twee tiere huisves nie.
Betekenis: Twee sterk karakters kan nie saam in dieselfde gebied geplaas word nie.

Stuk 12
Direkte Vertaling :
As jy nie wil hê iemand moet uitvind wat jy gedoen het nie, bes jy doen dit nie in die eerste plek nie.


Stuk 13
Direkte Vertaling : Een glimlag kan alle woede uitvee, een glas wyn kan al jou probleme oplos.
Betekenis: Alkohol het die potensiaal om ‘n mens (vir daardie spesifieke tyd) van al jou probleme te laat vergeet.

Stuk 14
Direkte Vertaling :
‘n Kind se lewe is soos ‘n stuk wit papier waarop elke persoon ‘n merk los.
Betekenis: Die mense wat impak maak op ‘n jong kind se lewe, sal ‘n lewenslange impak hê op daardie kind se wording.

Stuk 15
Direkte Vertaling : Helde skep geleenthede. Geleenthede skep helde.
Betekenis: As die geleentheid reg is, kan almal van ons as ‘n held gesien word.

Stuk 16
Direkte Vertaling : Blameer jouself soos jy ander blameer, vergewe ander soos jy jouself vergewe.
Betekenis: Dieselfde betekenis as “haal eers die splinter uit jou eie oog”

Stuk 17
Direkte Vertaling : ‘n Honderd manne kan ‘n kamp opslaan, maar dit vat een vrou om ‘n huis te maak.
Betekenis: ‘n Vrou is ‘n essensiële bestandeel in ‘n gelukkige huis.

Stuk 18
Direkte Vertaling en Betekenis: ‘n Juweel kan nie blink sonder om gepolitoer te word nie, net so kan ‘n mens nie perfek word sonder beproewinge nie.

Stuk 19
Direkte Vertaling : ‘n Duisend dae by die huis verloop foutloos. Een dag van die huis af is gesaai met moeilikheid.

Betekenis: Dis makliker om probleme op te los op ‘tuisgrond’ as op ‘n vreemde plek.
Stuk 20
Direkte Vertaling : Wanneer twee mense dieselfde dink, is woorde onnodig om te praat.
Betekenis: Wanneer jy iemand goed genoeg ken, kan jy die situasie lees sonder noodsaaklike kommunikasie.
Stuk 21
Direkte Vertaling: Ons ken die gesig, maar ons ken nie die gedagtes nie.
Betekenis: Maak nie saak hoe goed ons iemand ken nie, dis onmoontlik om te weet wat in elke persoon se gedagtes aangaan.
Stuk 22
Direkte Vertaling :
Hand en voet werk saam om die taak te verrig.
Betekenis: Maak nie saak hoe verskillend jou familielede is nie. Samewerking is nodig om sterk te staan teen alles wat die lewe oor jou pad bring.

Stuk 23
Direkte Vertaling :
Solank mens ‘n gewillige hart het, kan niks in jou pad staan om sukses te bereik nie.
Stuk 24
Direkte Vertaling :
Dáár waar die son se ligstrale saggies skyn, dáár is die huis.
Betekenis: Na ‘n lang reis is die huis uiteindelik op die horison. Ons is amper daar.