Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Sunday, November 11, 2007

Daniel en die blommetjie

November het aangebreek en saam met dit die winterkloue wat mens veral voel wanneer jy die strate op jou scooter aandurf. Ek kry letterlik boodskappe wêreldwyd oor die boek en dis 'n ongelooflike gevoel. Maar veral mense wat jou goed ken vra een belangrike vraag: Hoe waar is jou fiksie? Tom Clancy sê: "The difference between fiction and reality is that fiction has to make sense" en ek kan dit nie beter stel nie. Natuurlik sal dinge wat ek waargeneem het, gevoel het en ervaar het, my karakters help bou, maar meeste van my karakters in die boek is pure fiksioneel. Ek was al op al daardie plekke waarvan ek skryf en daarom kan ek eerstehands verduidelik hoe die karakters voel. Maar een karakter, selfs sy naam, was baie waar.

Klein Daniel Wang het in my lewe ingekom terwyl ek in 2003 by 'n kleuterskool gewerk het. Enigste kind, klein seuntjie en dieselfde hondjie hemp waarvan ek praat in die boek. Hy't ook 'n lisp gehad en my Teacha genoem. Maar die ding van Daniel wat my die hardste geruk het, was die blommetjie storie. Ek het gewéét dat as ek ooit 'n boek gaan skryf, ek van die blommetjies vertel. Daar was nie 'n idee op daardie stadium om Daniel op die einde van die boek eers te gebruik nie.

Daardie dag toe ek buite kom en sien hoe Daniel se blommetjie mooier is as al die ander om syne, het my lewe 'n groot ommekeer gehad. Ek het geleer om die lewe te aanskou uit die oë van 'n kind en baie dinge het ek met daardie 'childlike faith' aangepak wat mense van praat. Hier is nou 'n foto van die blommetjies, net sodat julle sien dat sommige fiksie gebasseer is op baie streng werklikhede. In die foto kan mens nie so mooi sien nie, maar daar het letterlik dou druppels op sy blommetjie gelê. 'n Pure wonderwerk.




DANIEL SE BLOMMETJIE IS DIE ROOI EEN REGS. MOEKLIK OM TE SIEN, Né


Soms moet ons net weer na die kinders kyk, en ophou konsentreer op die rat race daarbuite.

Sunday, November 4, 2007

Ou bekendes

Een van die lekkerste dinge tans, is om van daardie paar mense te hoor wat regtig die boek waardeer. Mens se naaste familie is mos veronderstel om baie daarvan te hou (dis nou as hulle enige goeie familie werd is). Maar dan kom die ander mense wie moet kritiek lewer. Daar is die resensente. O wee, vir hulle is 'n mens maar bang, want hulle kan jou soos 'n aasvoël uitmekaar ruk en seker maak nie eers jou stuitjie bly oor nie. Sover, is OOS redelik goed deur hulle aanvaar.

Maar ek praat van die ander mense. Diegene wat nie jou beste maats of familie is nie. Diegene wat jou wel verlangs ken of dalk glad nie. Daardie mense wie die boek lees, en vir jou een vir een laat terugweet dat jou boek 'n impak op hulle lewens gemaak het. Elke week sedert OOS uit is, kry ek hierdie spesifieke briefies. "Dankie dat jy ons laat Afrikaans lees!", en "Ek kon nie glo nie. Toe ek nog wou lees, toe's die (dik) boek klaar!". Hierdie mense is daardie ekstra woema wat skrywers-are nodig het. Dit maak my meer wil skryf en vir hierdie mense voorsien.

Etienne Bloemhof van Durbanville noem OOS 'n boek wat geskryf is in "eenvoudige, direkte Afrikaans" in sy BURGER resensie. En dis presies wie ek is. Ek wil nie 'n boek skryf wat verplig dat mense met 'n woordeboek langs hulle sit en lees nie. Ek skryf sommer net uit my hart en gebruik 'eenvoudige' Afrikaans vir 'n publiek wat honger is vir iets waarmee hulle kan identifiseer.

Ek is ewig dankbaar om te hoor meeste mense geniet die boek. Ek WIL 'n skrywer wees, en een bly.