Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Sunday, March 9, 2008

Wanneer jy die dromme van Mama Afrika hoor roep...

Ek is al vir 27 maande in Taiwan sonder om weer een keer terug te kon keer huis toe. Ons situasies hier werk anders. Kontrakte ook en daarom kon ek vir 'n ruk nog nie terugkeer nie. Maar op 20 Maart vlieg ek bietjie huis toe. Na iets bekends toe. Moeder se kos, my mense, my taal en die natuurprag van SA wat ek mis soos nog nooit tevore nie.

Een van die dinge wat ek die graagste na uitsien is net om vir OOS op 'n boekrak te mag sien. Ek hoor die boek is daar, maar ek wil dit met my eie oë sien. Die babatjie waaraan ek so hard gewerk het vir so lank.

Ongelukkig kan ek nie elkeen op die naam persoonlik bedank vir al julle wonderlike boodskappe en ondersteuning dmv epos en Facebook nie. Dit beteken bitter baie vir my. Ek het geslaag daarin om mense wat nie gereeld lees nie, weer 'n boek te laat optel en ek dink ek het een aspek in OOS goed raakgevat - die basiese aspek van menswees. Mense kon 'relate' met die karakters soos die Engelse sou sê.

Dankie vir julle wat gestem het in die "HET OOS JOU LAAT HUIL?"meningspeiling. Volgens die uitslag het die boek wel 'n paar 'n traan of twee laat pik. Ek's bly die boek kon mense raak.

Nou ja. Jou julle oë op die horison. Want binnekort sal 'n ystervoël neersak met my in sy maag. Afrika, ek kom bietjie kuier.

Saturday, January 26, 2008

Ek ruik 'n rot!


2008 is ook die "Jaar van die Rot" volgens die Chinese Kalender. Ek wens vir julle almal 'n wonderlike jaar toe. Kom ons hoop hierdie diertjie bring sommer baie nuwe avonture.

Vertaalde Stukke

'n Paar mense het nou al gevra: "Hoekom noem jy jou hoofstukke 'stuk' en nie 'hoofstuk' nie. Ek is nie 'n spoiler nie, maar sodra jy die boek gelees het, sal jy agterkom OOS bestaan uit verskillende STUKKE uit Louis se lewe wat afgespeel word. Dus weet mens net die noodsaaklike stukke.

Jammer Laura en al die ander wie so lank moes wag. Hier is die vertalings van die Chinese karakter stringe in elke Stuk. Let op dat almal 'n Chinese gesegde is wat te make het met die inhoud van daardie spesifieke stuk.


Stuk 1
Direkte Vertaling : ‘n Reis van ‘n duisend myl begin met een tree.

Betekenis: Mens moet soms daardie stap van geloof neem om iets te bereik.


Stuk 2
Direkte Vertaling : Wanneer jy ‘n blom in die mis sien, is dit nooit duidelik nie.
Betekenis: Mens kan nie altyd presies weet wat aangaan, tensy jy die volle prentjie sien nie.

Stuk 3
Direkte Vertaling : Moenie bang wees om stadig te groei nie, wees slegs bang om stil te staan.
Betekenis: Dieselfde betekenis as: ‘n Bewegende klip tel nie mos op nie.

Stuk 4
Direkte Vertaling en Betekenis:
Ons leef vir vandag, en vra nie vrae oor die toekoms nie.

Stuk 5
Direkte Vertaling : Die jakkals sal altyd vriendelik wees met die hoenders.
Betekenis: Dis soms die mees gevaarlike mense wat hulle altyd saam met die onskuldiges verwyl.

Stuk 6
Direkte Vertaling : As die wortels nie ordentlik verwyder word nie, sal die onkruid weer groei as die Lente wind waai.
Betekenis: Om een probleem op te los, is dit nodig om eers die kern van daardie probleem aan te spreek.

Stuk 7
Direkte Vertaling : Hoe meer die wind waai, hoe dikker raak die wolke.
Betekenis: Konflik bou geleidelik so op dat ‘n groot geveg of storm soms die enigste uitweg is.

Stuk 8
Direkte Vertaling en Betekenis: Soms is jy self jou grootste vyand.

Stuk 9
Direkte Vertaling :
‘n Mens se rykdom en blomme het ‘n geneigdheid om hul kleur te verloor.
Betekenis: Alle goeie dinge kom tot ‘n eiende.

Stuk 10
Direkte Vertaling : ‘n Duim tyd is ‘n duim goud, maar jy kan nie ‘n duim goud met ‘n duim tyd koop nie.
Betekenis: Tyd is goud werd, maar al die geld in die wêreld sal nooit tyd kan bekostig nie.

Stuk 11
Direkte Vertaling : Een berg kan nie twee tiere huisves nie.
Betekenis: Twee sterk karakters kan nie saam in dieselfde gebied geplaas word nie.

Stuk 12
Direkte Vertaling :
As jy nie wil hê iemand moet uitvind wat jy gedoen het nie, bes jy doen dit nie in die eerste plek nie.


Stuk 13
Direkte Vertaling : Een glimlag kan alle woede uitvee, een glas wyn kan al jou probleme oplos.
Betekenis: Alkohol het die potensiaal om ‘n mens (vir daardie spesifieke tyd) van al jou probleme te laat vergeet.

Stuk 14
Direkte Vertaling :
‘n Kind se lewe is soos ‘n stuk wit papier waarop elke persoon ‘n merk los.
Betekenis: Die mense wat impak maak op ‘n jong kind se lewe, sal ‘n lewenslange impak hê op daardie kind se wording.

Stuk 15
Direkte Vertaling : Helde skep geleenthede. Geleenthede skep helde.
Betekenis: As die geleentheid reg is, kan almal van ons as ‘n held gesien word.

Stuk 16
Direkte Vertaling : Blameer jouself soos jy ander blameer, vergewe ander soos jy jouself vergewe.
Betekenis: Dieselfde betekenis as “haal eers die splinter uit jou eie oog”

Stuk 17
Direkte Vertaling : ‘n Honderd manne kan ‘n kamp opslaan, maar dit vat een vrou om ‘n huis te maak.
Betekenis: ‘n Vrou is ‘n essensiële bestandeel in ‘n gelukkige huis.

Stuk 18
Direkte Vertaling en Betekenis: ‘n Juweel kan nie blink sonder om gepolitoer te word nie, net so kan ‘n mens nie perfek word sonder beproewinge nie.

Stuk 19
Direkte Vertaling : ‘n Duisend dae by die huis verloop foutloos. Een dag van die huis af is gesaai met moeilikheid.

Betekenis: Dis makliker om probleme op te los op ‘tuisgrond’ as op ‘n vreemde plek.
Stuk 20
Direkte Vertaling : Wanneer twee mense dieselfde dink, is woorde onnodig om te praat.
Betekenis: Wanneer jy iemand goed genoeg ken, kan jy die situasie lees sonder noodsaaklike kommunikasie.
Stuk 21
Direkte Vertaling: Ons ken die gesig, maar ons ken nie die gedagtes nie.
Betekenis: Maak nie saak hoe goed ons iemand ken nie, dis onmoontlik om te weet wat in elke persoon se gedagtes aangaan.
Stuk 22
Direkte Vertaling :
Hand en voet werk saam om die taak te verrig.
Betekenis: Maak nie saak hoe verskillend jou familielede is nie. Samewerking is nodig om sterk te staan teen alles wat die lewe oor jou pad bring.

Stuk 23
Direkte Vertaling :
Solank mens ‘n gewillige hart het, kan niks in jou pad staan om sukses te bereik nie.
Stuk 24
Direkte Vertaling :
Dáár waar die son se ligstrale saggies skyn, dáár is die huis.
Betekenis: Na ‘n lang reis is die huis uiteindelik op die horison. Ons is amper daar.

Monday, December 24, 2007

Spirit of the Great Heart

Hierdie bekende liedjie van Johnny Clegg en Savuka was nie net een van my gunsteling liedjies van alle tye nie, maar dit het my altyd hoop gegee wanneer ek daarna luister. Krag vir 'n nuwe dag. Ek het geweet dat hierdie liedjie genoeg woema het wat Louis nodig gehad het om hom deur enige iets te kry.

Groot was my verbasing toe ek verneem dat dit heropgeneem is in dieselfde tyd as wat OOS vrygestel is. Ek was so in my skik met hierdie video. Kyk gerus en geniet!
(Dankie vir tip off Nadine!)

Friday, December 21, 2007

Anelle wen met 87%


Ek het mense so opinies gevra oor wie hulle gunsteling karakter in die boek was. Anelle Smit het die Moscar (Marion se Oscar) gewen vir 'Gunsteling Karakter in 'n Debut Roman' met 'n skokkende 87% van die stemme.

Anelle kon ongelukkig nie hier wees vir die oorhandiging van die Moscar nie, maar het wel die volgende te sê gehad :


"Dankie almal. Ek voel behoorlik soos 'n bleddie kwak omdat my tragedies julle so na aan die hart geraak het. Maar ek weet Marion moes dit doen, anders het julle al op bladsy 5 ophou lees. Die toekenning is 'n groot eer. Ek hoop om julle almal in die toekoms te sien."

Leser Terugvoer 1


Ek wil baie dankie sê vir al die briefies en briewe wat van oral oor instroom om te sê dat julle OOS geniet het. Ek kan nie eers begin om te beskryf wat dit vir my beteken nie. Die feit dat ek julle kan saam vat op Louis se reis en my wêreld was 'n paar jaar terug net 'n droom en ek moet erken, ek is oorweldig deur die positiewe kommentaar. Dit spoor my aan om harder te werk en nog beter te skryf. Ek deel graag met julle wat 'n paar mense sê:


Christie-Anne in Sandton skryf:

Wanneer mens weg raak in hierdie boek, is dit asof mens in die karakter se lewe kan inklim, en alles ervaar soos wat hy doen. Die smake, nuwe land en nuwe kulture. Goeie humor en mens kan eenvoudig nie die boek neersit totdat mens hom klaar gelees het nie. As mens iemand wil bederf met lekker lees, is dit nou die boek!


Marcelle in Taiwan, skryf:

Ek het Marion se boek baie geniet. Die storie is boeiend en het my tot aan die einde aan die raai gehou. Sy beskrywings van Taiwan plaas die roman in ‘n ander katogorie as net die gewone roman. Sy beskrywing koppel ook ‘n ander dimensie aan die karakters. Dit is duidelik dat Marion eerstehandse kennis het van hoe dit is om as vreemdeling in Taiwan te woon. Enigeen wat al moes nesskop in 'n vreemde land sal kan identifiseer met die karakters se krissise en oorlewingstrategiee. Mense wat egter nog nooit ‘n ander kultuur soos die Chinese kultuur beleef het nie, sal steeds kan identifiseer met die karakters. Ek beveel die boek ten sterkste aan … en wie weet , dalk leer jy dalk nog ‘n ding of twee omtrent Chinese mense en hul Kultuur.


Ben uit die Wesrand skryf:

Wel die rede hoekom ek skryf is om te se dat ek heel toevallig op jou boek, OOS, afgekom het in 'n boek winkel. Ek is nie regtig die lees tipe nie maar om die waarheid te vertel. Ek het hom klaar gelees in 2 dae. En vir iemand om dit reg te kry met my is Blerry goed.

Rencia skryf:

Ek het jou boek in twee dae verslind, kon dit net nie neersit toe ek eers begin lees het nie. Jong jy het my ook `n paar keer lekker laat lag, soos by die troue en die skilpadsop en die keer toe hulle die bom dril gehad het.

Adele uit Brits skryf:

Vrydag aand is ek terug huis toe en het met Oos in die bed gaan klim. Maar ja voor ek daar uitgekom het, het ek in die sitkamer gesit en dit boek vasgehou en bekyk en sommer 'n traan gepik van die grootsheid daarvan om "Oos" te kan vashou. Dit was verseker 'n WOW oomblik en weer het ek so trots gevoel op jou dat jy dit gedoen het. Ek het sommer al 'n goeie stuk gelees die Vrydag-aand en was maar Saterdag ook in die bed en het ook 'n goeie stuk gelees. Ek geniet dit werklik sover en ja jy was SO reg toe jy gesê het hoe ek met als sal kan identifiseer. Elke geluid kan ek hoor, elke reuk kan ek ruik en so is al daai prentjies in my kop vasgevang soos ek lees. Wat 'n wonderlike boek om my lewe in Taiwan altyd te onthou, dankie vir jou wat dit moontlik gemaak het. WELL DONE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!


Laura from Cape Town writes:

Hi Marriesie,
Just a quick mail which I was supposed to send yesterday to say – I FINISHED OOS!!!!!!!! My first Afrikaans book and I thoroughly enjoyed it! It was so cool. I loved ‘escaping’ into the book which felt like I was ‘escaping’ back into Taiwan. I wanted to ask who are the people on the front cover of the book? And what did the Chinese characters down the centre of the pages mean? Baie dankie vir die lekker boek. Ek kan nie wag om die volgende een te lees nie.

(Laura, watch the blog, I will soon translate each chapter's Chinese on the blog. Each string of characters represent a Chinese proverb. M)

Nadine in Gauteng, skryf:

My liewe mense. Aangesien ek Marion ken, was dit vir my soooo interessant om te sien hoe van die einaardige goed wat hy daar ondervind het so... wats die woord? enige iemand?! any way, in mekaar gerol het. Geskryf soos NET Marion kan. Wat die humor in die mees ongemaklike en ongewone situasie kan sien. Ek het eintlik net een issue met die boek gehad... um, dalk is daar 'n paar van julle wat ook so voel, maar, is te DAMN kort!!!!!PS. Youre gona love this! Spirit of the Great Heart word nou oor opgeneem, met 'n ton SA bekendes. karen Zoid, Arno Karstens, Cito... en eerlik kan ek nie die res onthou nie... maar hou youtube dop, as iemand dit dalk gerip kry!

Sunday, November 11, 2007

Daniel en die blommetjie

November het aangebreek en saam met dit die winterkloue wat mens veral voel wanneer jy die strate op jou scooter aandurf. Ek kry letterlik boodskappe wêreldwyd oor die boek en dis 'n ongelooflike gevoel. Maar veral mense wat jou goed ken vra een belangrike vraag: Hoe waar is jou fiksie? Tom Clancy sê: "The difference between fiction and reality is that fiction has to make sense" en ek kan dit nie beter stel nie. Natuurlik sal dinge wat ek waargeneem het, gevoel het en ervaar het, my karakters help bou, maar meeste van my karakters in die boek is pure fiksioneel. Ek was al op al daardie plekke waarvan ek skryf en daarom kan ek eerstehands verduidelik hoe die karakters voel. Maar een karakter, selfs sy naam, was baie waar.

Klein Daniel Wang het in my lewe ingekom terwyl ek in 2003 by 'n kleuterskool gewerk het. Enigste kind, klein seuntjie en dieselfde hondjie hemp waarvan ek praat in die boek. Hy't ook 'n lisp gehad en my Teacha genoem. Maar die ding van Daniel wat my die hardste geruk het, was die blommetjie storie. Ek het gewéét dat as ek ooit 'n boek gaan skryf, ek van die blommetjies vertel. Daar was nie 'n idee op daardie stadium om Daniel op die einde van die boek eers te gebruik nie.

Daardie dag toe ek buite kom en sien hoe Daniel se blommetjie mooier is as al die ander om syne, het my lewe 'n groot ommekeer gehad. Ek het geleer om die lewe te aanskou uit die oë van 'n kind en baie dinge het ek met daardie 'childlike faith' aangepak wat mense van praat. Hier is nou 'n foto van die blommetjies, net sodat julle sien dat sommige fiksie gebasseer is op baie streng werklikhede. In die foto kan mens nie so mooi sien nie, maar daar het letterlik dou druppels op sy blommetjie gelê. 'n Pure wonderwerk.




DANIEL SE BLOMMETJIE IS DIE ROOI EEN REGS. MOEKLIK OM TE SIEN, Né


Soms moet ons net weer na die kinders kyk, en ophou konsentreer op die rat race daarbuite.