Hierdie blog is spesifiek gefokus op die debuutroman, OOS, van Marion Erskine. Dit bevat ekstra inligting en informasie en is 'n interaktiewe manier om met die skrywer self te kommunikeer. Kyk gerus, vra vrae en geniet.

Stuur gerus 'n epos na: zebrastreep@gmail.com

Thursday, January 7, 2010

Boekemakranka

Trisa Hugo bly op Kleimond en een van haar passies is lees. Veral Afrikaanse boeke. Sy het in die laaste paar jaar ongelooflik baie gedoen vir Afrikaanse skrywers en haar forum, Boekmakranka, kry daagliks meer en meer lede wat graag deel oor hulle gunsteling Afrikaanse stories. Boekemakranka het met nog 'n nuwe inisiatief vorendag gekom en dit is om 'n leeslys saam te stel waar mense hulle gunsteling 100 Afrikaanse boeke kan nomineer en kies. Dis dan ook so hoe OOS geland het op die lys en nogal 6de plek verwerf het. Ek was meer geskok as enige iemand anders oor die uitslag en is werklik baie bevoorreg om bloot op die lys te wees.

Trisa het ook 'n onderhoud met my gevoer. Lees gerus hier.

Dankie vir almal wat vir my gestem het en vir die e-posse wat nou en dan inkom van hoe julle die boek geniet het. Dit spoor my regtig aan. Kyk uit vir my nuwe boek in 2010.

Tuesday, April 28, 2009

Daai dae wat ons almal maar kry

Dinsdag die 28ste April is nie 'n dag wat ek graag weer wil beleef as ek hoef nie. Dit het reeds vroeg oggend begin wat ek half verslaap het. Daarna amper 'n ongeluk oppad werk toe deur 'n simpel man wat ons almal amper van die aardkors as wis.  By die werk aangekom en dit was moeilikheid na moeilikheid en ook daarna.  43 grade buite was ook nie iets wat mens se 'mood' veel goed kon doen nie.

Ek het sonder 'n druppel energie na vyf my op rekenaarstoel gaan neerploeg en hier wag 'n boodskap van iemand wat ek glad nie ken nie.  Hanneke van die Kaap vra my of ek die skrywer van OOS is en laat my weet hoe baie sy die boek geniet het en dit al soveel keer oorgelees het.  

Nou dit is oomblikke soos hierdie wat baie meer werd is as al die goud op die planeet. Dit is asof 'n nuwe gees of vuur in mens se are inblaas en asof jy sommer skielik net moed het vir alles wat jy nog moet aanpak.  Dis soms al wat mens nodig het.  Hanneke, baie baie dankie.  Dis mense soos jy wat my inspireer om harder te werk, my sokkies op te trek en nog 'n paar boeke agter my naam te kry.

Jy was soos 'n engel in 'n baie donker storm.

Monday, October 6, 2008

OOS! OOS! Hoera!!


Einde September het OOS sy eerste verjaardag gevier en ek kry nog gereeld boodskappe van mense wat die boek geniet het. Baie dankie daarvoor. 'n Hele paar versoek natuurlik 'n opvolg of 'n nuwe boek. Ek moet dan ook verduidelik dat dit nie so maklik is soos wat dit klink nie. Die proses is lank en 'n uitgewer se tyd is nie dieselfde as 'n skrywer se tyd nie. Maar kyk gerus uit. Wie weet, dalk oor 'n paar maande sien julle nog iets van my op die rak. Vir nou, kan ek trots net aankondig dat my debut baba 'n volle jaar oud is en dit voel steeds so lekker soos die eerste dag om een van hulle te teken.

Friday, May 30, 2008

My eie BOOK TRAILER

Ek het al 'n paar keer vantevore gesien dat mense 'n 'trailer' van hulle boeke op die Net sit. Toe het ek dit goed gedink om een vir OOS ook te skep. Taiwan is so anders as SA en al probeer ek ook hoe verduidelik hoe dit lyk, kan mens nooit 'n presiese idee kry nie... bloot oor die feit dat jy dit nog nooit voorheen gesien het nie. Soos die Stinky Tofu, Betelneut meisies ens.

Kyk gerus en laat weet my wat julle dink.

O ja! Ek't 'n paar fotos ingesit van hoe ek my karakters voorgestel het. Theuns, Wilma en Sarah is daar. En 'n video van presies hoe ek vir Peggy voorgestel het.

Geniet.

Wednesday, May 21, 2008

Aardbewing in China

Dit is hartskeurend om die fotos en video materiaal te sien die afgelope dae wat in China gebeur het. Ek wonder baie hoe mens optel (indien moontnlik) en aangaan met 'n normale lewe daarna? Die stories van mense wat dit wel gemaak het, klink amper asof dit nie kan waar wees nie. Eers hoor ek van 'n man wat sy eie uriene gedrink het om te oorleef. Hy's meer as 170 uur na die aardbewing lewendig gevind. Dan van 'n vrou wat haar eie bloed gedrink het om vloeistof te kon kry. En selfs van twee honde wat hulle einaar se mond bly lek het, sodat sy kon oorleef.

Dit is skrikwekkend wat met ons wêreld aangaan. Daar waar nie natuurlike verwoesting is nie, is mense die oorsaak van soveel moord en dood. Wat word van ons mensdom? En hoekom leer ons nie uit ons voorvaders se foute nie?



Ek het al 'n paar aardbewings in Taiwan beleef. Meer as wat goed was vir my, en vir 'n Saffie soos ek, is dit 'n baie snaakse ervaring. Meeste van ons bly op die 15de vloer. Waarnatoe hardloop jy? Terwyl ek OOS geskryf het, het ek eenkeer 'n aardbewing beleef in my kleuterskool. Ek het daardie kinders so gou moontlik daar uitgekry. Maar nadat OOS klaar geskryf is, het ek op die 26ste Desember 2006 die aand skoolgehou op die 5de vloer. Ek het die kinders net 'n paar minute voorheen vertel dat dit vandag 2 jaar was nadat die Tsunami lande soos Thailand, Indië en Sri Lanka getref het. Een van my studente het gegil "DI ZHEN", wat aardbewing beteken. Ek was nog besig om die woorde "Don't speak Chinese in my class!" op my tong te vorm, toe ek begin van kant tot kant ruk in die klaskamer. Ek het agteroorgetuimel en gelukkig het die witbord my val gebreek. Ek wou die kinders dadelik ontruim en so waar as wraggies kom die Taiwannese sekretaresse opgehardloop en sê ons moet bly sit. Ek was baie omgekrap, want hierdie kinders se lewens was in my hand. 5 minute later was daar wéér 'n naskok, amper net so groot soos die eerste een! Ek het 'n veer gevoel vir die sekretaresse en het dadelik die skool ontruim.



Ek hoop die situasie in China het hulle nou net weer van voor af laat besef hoe noodsaaklik dit is om uit die geboue te kom. Ek kan baie hanteer, maar 35 studente se bloed op my hande is nie iets wat ek wil saam graf toe neem nie.

My gebede gaan uit vir al die mense in China, Myanmar en nou in Suid-Afrika. Mens kan net hoop dat die wêreld 'n beter plek sal raak.

Friday, April 18, 2008

Terug in Taiwan

Ek hou baie van die Afrikaanse weergawe van die woord "jet lag". Die woord 'vlugvoos' stel dit net soveel beter en hierdie keer is ek meer vlugvoos as enige van die vorige kere wat ek hierheen moes vlieg. Dalk is dit die ouderdom, wie weet?

Dit was ongelooflik om vir OOS op die rakke te kon sien gedurende my 3 weke by die huis. Baie dankie vir almal se ondersteuning in die verkope en ook dat julle mense aanbeveel het om die boek te koop en te lees.

Tydens my kuiertjie daar, het Kabous Meiring ook 'n onderhoud met my gedoen vir RSG. Julle kan gerus luister hierna deur op die volgende skakel te kliek.
http://www.rsg.co.za/images/upload/sound/klanke/20080415_LEESKRING.mp3
(Luister vanaf min of meer die middel van die potgooi/podcast)

Nou ja, die hel se hekke maak oop as Mei ons hier tref, so hou vir ons duim vas. Taiwan se somers is by verre die onsmaaklikste tyd van die jaar hier. Wens ons maar sterkte toe.

Sunday, March 9, 2008

Wanneer jy die dromme van Mama Afrika hoor roep...

Ek is al vir 27 maande in Taiwan sonder om weer een keer terug te kon keer huis toe. Ons situasies hier werk anders. Kontrakte ook en daarom kon ek vir 'n ruk nog nie terugkeer nie. Maar op 20 Maart vlieg ek bietjie huis toe. Na iets bekends toe. Moeder se kos, my mense, my taal en die natuurprag van SA wat ek mis soos nog nooit tevore nie.

Een van die dinge wat ek die graagste na uitsien is net om vir OOS op 'n boekrak te mag sien. Ek hoor die boek is daar, maar ek wil dit met my eie oë sien. Die babatjie waaraan ek so hard gewerk het vir so lank.

Ongelukkig kan ek nie elkeen op die naam persoonlik bedank vir al julle wonderlike boodskappe en ondersteuning dmv epos en Facebook nie. Dit beteken bitter baie vir my. Ek het geslaag daarin om mense wat nie gereeld lees nie, weer 'n boek te laat optel en ek dink ek het een aspek in OOS goed raakgevat - die basiese aspek van menswees. Mense kon 'relate' met die karakters soos die Engelse sou sê.

Dankie vir julle wat gestem het in die "HET OOS JOU LAAT HUIL?"meningspeiling. Volgens die uitslag het die boek wel 'n paar 'n traan of twee laat pik. Ek's bly die boek kon mense raak.

Nou ja. Jou julle oë op die horison. Want binnekort sal 'n ystervoël neersak met my in sy maag. Afrika, ek kom bietjie kuier.

Saturday, January 26, 2008

Ek ruik 'n rot!


2008 is ook die "Jaar van die Rot" volgens die Chinese Kalender. Ek wens vir julle almal 'n wonderlike jaar toe. Kom ons hoop hierdie diertjie bring sommer baie nuwe avonture.

Vertaalde Stukke

'n Paar mense het nou al gevra: "Hoekom noem jy jou hoofstukke 'stuk' en nie 'hoofstuk' nie. Ek is nie 'n spoiler nie, maar sodra jy die boek gelees het, sal jy agterkom OOS bestaan uit verskillende STUKKE uit Louis se lewe wat afgespeel word. Dus weet mens net die noodsaaklike stukke.

Jammer Laura en al die ander wie so lank moes wag. Hier is die vertalings van die Chinese karakter stringe in elke Stuk. Let op dat almal 'n Chinese gesegde is wat te make het met die inhoud van daardie spesifieke stuk.


Stuk 1
Direkte Vertaling : ‘n Reis van ‘n duisend myl begin met een tree.

Betekenis: Mens moet soms daardie stap van geloof neem om iets te bereik.


Stuk 2
Direkte Vertaling : Wanneer jy ‘n blom in die mis sien, is dit nooit duidelik nie.
Betekenis: Mens kan nie altyd presies weet wat aangaan, tensy jy die volle prentjie sien nie.

Stuk 3
Direkte Vertaling : Moenie bang wees om stadig te groei nie, wees slegs bang om stil te staan.
Betekenis: Dieselfde betekenis as: ‘n Bewegende klip tel nie mos op nie.

Stuk 4
Direkte Vertaling en Betekenis:
Ons leef vir vandag, en vra nie vrae oor die toekoms nie.

Stuk 5
Direkte Vertaling : Die jakkals sal altyd vriendelik wees met die hoenders.
Betekenis: Dis soms die mees gevaarlike mense wat hulle altyd saam met die onskuldiges verwyl.

Stuk 6
Direkte Vertaling : As die wortels nie ordentlik verwyder word nie, sal die onkruid weer groei as die Lente wind waai.
Betekenis: Om een probleem op te los, is dit nodig om eers die kern van daardie probleem aan te spreek.

Stuk 7
Direkte Vertaling : Hoe meer die wind waai, hoe dikker raak die wolke.
Betekenis: Konflik bou geleidelik so op dat ‘n groot geveg of storm soms die enigste uitweg is.

Stuk 8
Direkte Vertaling en Betekenis: Soms is jy self jou grootste vyand.

Stuk 9
Direkte Vertaling :
‘n Mens se rykdom en blomme het ‘n geneigdheid om hul kleur te verloor.
Betekenis: Alle goeie dinge kom tot ‘n eiende.

Stuk 10
Direkte Vertaling : ‘n Duim tyd is ‘n duim goud, maar jy kan nie ‘n duim goud met ‘n duim tyd koop nie.
Betekenis: Tyd is goud werd, maar al die geld in die wêreld sal nooit tyd kan bekostig nie.

Stuk 11
Direkte Vertaling : Een berg kan nie twee tiere huisves nie.
Betekenis: Twee sterk karakters kan nie saam in dieselfde gebied geplaas word nie.

Stuk 12
Direkte Vertaling :
As jy nie wil hê iemand moet uitvind wat jy gedoen het nie, bes jy doen dit nie in die eerste plek nie.


Stuk 13
Direkte Vertaling : Een glimlag kan alle woede uitvee, een glas wyn kan al jou probleme oplos.
Betekenis: Alkohol het die potensiaal om ‘n mens (vir daardie spesifieke tyd) van al jou probleme te laat vergeet.

Stuk 14
Direkte Vertaling :
‘n Kind se lewe is soos ‘n stuk wit papier waarop elke persoon ‘n merk los.
Betekenis: Die mense wat impak maak op ‘n jong kind se lewe, sal ‘n lewenslange impak hê op daardie kind se wording.

Stuk 15
Direkte Vertaling : Helde skep geleenthede. Geleenthede skep helde.
Betekenis: As die geleentheid reg is, kan almal van ons as ‘n held gesien word.

Stuk 16
Direkte Vertaling : Blameer jouself soos jy ander blameer, vergewe ander soos jy jouself vergewe.
Betekenis: Dieselfde betekenis as “haal eers die splinter uit jou eie oog”

Stuk 17
Direkte Vertaling : ‘n Honderd manne kan ‘n kamp opslaan, maar dit vat een vrou om ‘n huis te maak.
Betekenis: ‘n Vrou is ‘n essensiële bestandeel in ‘n gelukkige huis.

Stuk 18
Direkte Vertaling en Betekenis: ‘n Juweel kan nie blink sonder om gepolitoer te word nie, net so kan ‘n mens nie perfek word sonder beproewinge nie.

Stuk 19
Direkte Vertaling : ‘n Duisend dae by die huis verloop foutloos. Een dag van die huis af is gesaai met moeilikheid.

Betekenis: Dis makliker om probleme op te los op ‘tuisgrond’ as op ‘n vreemde plek.
Stuk 20
Direkte Vertaling : Wanneer twee mense dieselfde dink, is woorde onnodig om te praat.
Betekenis: Wanneer jy iemand goed genoeg ken, kan jy die situasie lees sonder noodsaaklike kommunikasie.
Stuk 21
Direkte Vertaling: Ons ken die gesig, maar ons ken nie die gedagtes nie.
Betekenis: Maak nie saak hoe goed ons iemand ken nie, dis onmoontlik om te weet wat in elke persoon se gedagtes aangaan.
Stuk 22
Direkte Vertaling :
Hand en voet werk saam om die taak te verrig.
Betekenis: Maak nie saak hoe verskillend jou familielede is nie. Samewerking is nodig om sterk te staan teen alles wat die lewe oor jou pad bring.

Stuk 23
Direkte Vertaling :
Solank mens ‘n gewillige hart het, kan niks in jou pad staan om sukses te bereik nie.
Stuk 24
Direkte Vertaling :
Dáár waar die son se ligstrale saggies skyn, dáár is die huis.
Betekenis: Na ‘n lang reis is die huis uiteindelik op die horison. Ons is amper daar.

Monday, December 24, 2007

Spirit of the Great Heart

Hierdie bekende liedjie van Johnny Clegg en Savuka was nie net een van my gunsteling liedjies van alle tye nie, maar dit het my altyd hoop gegee wanneer ek daarna luister. Krag vir 'n nuwe dag. Ek het geweet dat hierdie liedjie genoeg woema het wat Louis nodig gehad het om hom deur enige iets te kry.

Groot was my verbasing toe ek verneem dat dit heropgeneem is in dieselfde tyd as wat OOS vrygestel is. Ek was so in my skik met hierdie video. Kyk gerus en geniet!
(Dankie vir tip off Nadine!)

Friday, December 21, 2007

Anelle wen met 87%


Ek het mense so opinies gevra oor wie hulle gunsteling karakter in die boek was. Anelle Smit het die Moscar (Marion se Oscar) gewen vir 'Gunsteling Karakter in 'n Debut Roman' met 'n skokkende 87% van die stemme.

Anelle kon ongelukkig nie hier wees vir die oorhandiging van die Moscar nie, maar het wel die volgende te sê gehad :


"Dankie almal. Ek voel behoorlik soos 'n bleddie kwak omdat my tragedies julle so na aan die hart geraak het. Maar ek weet Marion moes dit doen, anders het julle al op bladsy 5 ophou lees. Die toekenning is 'n groot eer. Ek hoop om julle almal in die toekoms te sien."

Leser Terugvoer 1


Ek wil baie dankie sê vir al die briefies en briewe wat van oral oor instroom om te sê dat julle OOS geniet het. Ek kan nie eers begin om te beskryf wat dit vir my beteken nie. Die feit dat ek julle kan saam vat op Louis se reis en my wêreld was 'n paar jaar terug net 'n droom en ek moet erken, ek is oorweldig deur die positiewe kommentaar. Dit spoor my aan om harder te werk en nog beter te skryf. Ek deel graag met julle wat 'n paar mense sê:


Christie-Anne in Sandton skryf:

Wanneer mens weg raak in hierdie boek, is dit asof mens in die karakter se lewe kan inklim, en alles ervaar soos wat hy doen. Die smake, nuwe land en nuwe kulture. Goeie humor en mens kan eenvoudig nie die boek neersit totdat mens hom klaar gelees het nie. As mens iemand wil bederf met lekker lees, is dit nou die boek!


Marcelle in Taiwan, skryf:

Ek het Marion se boek baie geniet. Die storie is boeiend en het my tot aan die einde aan die raai gehou. Sy beskrywings van Taiwan plaas die roman in ‘n ander katogorie as net die gewone roman. Sy beskrywing koppel ook ‘n ander dimensie aan die karakters. Dit is duidelik dat Marion eerstehandse kennis het van hoe dit is om as vreemdeling in Taiwan te woon. Enigeen wat al moes nesskop in 'n vreemde land sal kan identifiseer met die karakters se krissise en oorlewingstrategiee. Mense wat egter nog nooit ‘n ander kultuur soos die Chinese kultuur beleef het nie, sal steeds kan identifiseer met die karakters. Ek beveel die boek ten sterkste aan … en wie weet , dalk leer jy dalk nog ‘n ding of twee omtrent Chinese mense en hul Kultuur.


Ben uit die Wesrand skryf:

Wel die rede hoekom ek skryf is om te se dat ek heel toevallig op jou boek, OOS, afgekom het in 'n boek winkel. Ek is nie regtig die lees tipe nie maar om die waarheid te vertel. Ek het hom klaar gelees in 2 dae. En vir iemand om dit reg te kry met my is Blerry goed.

Rencia skryf:

Ek het jou boek in twee dae verslind, kon dit net nie neersit toe ek eers begin lees het nie. Jong jy het my ook `n paar keer lekker laat lag, soos by die troue en die skilpadsop en die keer toe hulle die bom dril gehad het.

Adele uit Brits skryf:

Vrydag aand is ek terug huis toe en het met Oos in die bed gaan klim. Maar ja voor ek daar uitgekom het, het ek in die sitkamer gesit en dit boek vasgehou en bekyk en sommer 'n traan gepik van die grootsheid daarvan om "Oos" te kan vashou. Dit was verseker 'n WOW oomblik en weer het ek so trots gevoel op jou dat jy dit gedoen het. Ek het sommer al 'n goeie stuk gelees die Vrydag-aand en was maar Saterdag ook in die bed en het ook 'n goeie stuk gelees. Ek geniet dit werklik sover en ja jy was SO reg toe jy gesê het hoe ek met als sal kan identifiseer. Elke geluid kan ek hoor, elke reuk kan ek ruik en so is al daai prentjies in my kop vasgevang soos ek lees. Wat 'n wonderlike boek om my lewe in Taiwan altyd te onthou, dankie vir jou wat dit moontlik gemaak het. WELL DONE!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!


Laura from Cape Town writes:

Hi Marriesie,
Just a quick mail which I was supposed to send yesterday to say – I FINISHED OOS!!!!!!!! My first Afrikaans book and I thoroughly enjoyed it! It was so cool. I loved ‘escaping’ into the book which felt like I was ‘escaping’ back into Taiwan. I wanted to ask who are the people on the front cover of the book? And what did the Chinese characters down the centre of the pages mean? Baie dankie vir die lekker boek. Ek kan nie wag om die volgende een te lees nie.

(Laura, watch the blog, I will soon translate each chapter's Chinese on the blog. Each string of characters represent a Chinese proverb. M)

Nadine in Gauteng, skryf:

My liewe mense. Aangesien ek Marion ken, was dit vir my soooo interessant om te sien hoe van die einaardige goed wat hy daar ondervind het so... wats die woord? enige iemand?! any way, in mekaar gerol het. Geskryf soos NET Marion kan. Wat die humor in die mees ongemaklike en ongewone situasie kan sien. Ek het eintlik net een issue met die boek gehad... um, dalk is daar 'n paar van julle wat ook so voel, maar, is te DAMN kort!!!!!PS. Youre gona love this! Spirit of the Great Heart word nou oor opgeneem, met 'n ton SA bekendes. karen Zoid, Arno Karstens, Cito... en eerlik kan ek nie die res onthou nie... maar hou youtube dop, as iemand dit dalk gerip kry!

Sunday, November 11, 2007

Daniel en die blommetjie

November het aangebreek en saam met dit die winterkloue wat mens veral voel wanneer jy die strate op jou scooter aandurf. Ek kry letterlik boodskappe wêreldwyd oor die boek en dis 'n ongelooflike gevoel. Maar veral mense wat jou goed ken vra een belangrike vraag: Hoe waar is jou fiksie? Tom Clancy sê: "The difference between fiction and reality is that fiction has to make sense" en ek kan dit nie beter stel nie. Natuurlik sal dinge wat ek waargeneem het, gevoel het en ervaar het, my karakters help bou, maar meeste van my karakters in die boek is pure fiksioneel. Ek was al op al daardie plekke waarvan ek skryf en daarom kan ek eerstehands verduidelik hoe die karakters voel. Maar een karakter, selfs sy naam, was baie waar.

Klein Daniel Wang het in my lewe ingekom terwyl ek in 2003 by 'n kleuterskool gewerk het. Enigste kind, klein seuntjie en dieselfde hondjie hemp waarvan ek praat in die boek. Hy't ook 'n lisp gehad en my Teacha genoem. Maar die ding van Daniel wat my die hardste geruk het, was die blommetjie storie. Ek het gewéét dat as ek ooit 'n boek gaan skryf, ek van die blommetjies vertel. Daar was nie 'n idee op daardie stadium om Daniel op die einde van die boek eers te gebruik nie.

Daardie dag toe ek buite kom en sien hoe Daniel se blommetjie mooier is as al die ander om syne, het my lewe 'n groot ommekeer gehad. Ek het geleer om die lewe te aanskou uit die oë van 'n kind en baie dinge het ek met daardie 'childlike faith' aangepak wat mense van praat. Hier is nou 'n foto van die blommetjies, net sodat julle sien dat sommige fiksie gebasseer is op baie streng werklikhede. In die foto kan mens nie so mooi sien nie, maar daar het letterlik dou druppels op sy blommetjie gelê. 'n Pure wonderwerk.




DANIEL SE BLOMMETJIE IS DIE ROOI EEN REGS. MOEKLIK OM TE SIEN, Né


Soms moet ons net weer na die kinders kyk, en ophou konsentreer op die rat race daarbuite.

Sunday, November 4, 2007

Ou bekendes

Een van die lekkerste dinge tans, is om van daardie paar mense te hoor wat regtig die boek waardeer. Mens se naaste familie is mos veronderstel om baie daarvan te hou (dis nou as hulle enige goeie familie werd is). Maar dan kom die ander mense wie moet kritiek lewer. Daar is die resensente. O wee, vir hulle is 'n mens maar bang, want hulle kan jou soos 'n aasvoël uitmekaar ruk en seker maak nie eers jou stuitjie bly oor nie. Sover, is OOS redelik goed deur hulle aanvaar.

Maar ek praat van die ander mense. Diegene wat nie jou beste maats of familie is nie. Diegene wat jou wel verlangs ken of dalk glad nie. Daardie mense wie die boek lees, en vir jou een vir een laat terugweet dat jou boek 'n impak op hulle lewens gemaak het. Elke week sedert OOS uit is, kry ek hierdie spesifieke briefies. "Dankie dat jy ons laat Afrikaans lees!", en "Ek kon nie glo nie. Toe ek nog wou lees, toe's die (dik) boek klaar!". Hierdie mense is daardie ekstra woema wat skrywers-are nodig het. Dit maak my meer wil skryf en vir hierdie mense voorsien.

Etienne Bloemhof van Durbanville noem OOS 'n boek wat geskryf is in "eenvoudige, direkte Afrikaans" in sy BURGER resensie. En dis presies wie ek is. Ek wil nie 'n boek skryf wat verplig dat mense met 'n woordeboek langs hulle sit en lees nie. Ek skryf sommer net uit my hart en gebruik 'eenvoudige' Afrikaans vir 'n publiek wat honger is vir iets waarmee hulle kan identifiseer.

Ek is ewig dankbaar om te hoor meeste mense geniet die boek. Ek WIL 'n skrywer wees, en een bly.

Friday, October 26, 2007

Book Launch : Té ver oos

Verlede Donderdagaand, 25 Oktober, was die groot bekendstelling in Kaapstad en 4 van die 5 skrywers was daar. Almal behalwe ek. Heng, daar is baie emosies wat gepaard gaan met so iets. Eers dink jy "Dis net 'n launch", maar voor jy kan sê : Vyf Ses Skerp Mes dan tref die realiteit jou soos die Vuil Skottelgoed wat al van verlede week af ophoop agv jou besige skedule.

Jy's opgewonde en hartseer gelyktydig. 'n Bittersoet Hemelhel wat tref. Hard tref.

'n Paar mense het my gevra hoekom ek nie maar 'n plan maak om SA toe te gaan nie. Die lewe in Taiwan werk nie soos by die huis nie. Hier is jy onder so 'n sterk kontrak dat al gaan jou eie bloedfamilie dood, die oë getrek word. Daar is nie gevoel vir so iets nie. Toe ek my baas vertel van die groot dag in my lewe, het sy geglimlag en gesê: "Oh, that's nice. Don't get too famous, because you still have to work here."

Ek is so dankbaar vir die vriende wat ek wel het. Die mense in Taiwan het my baie ondersteun en dan nog boonop al my maats wat ek hier gemaak het hy my trots gaan verteenwoordig in Kaapstad. My ma - of Moemin - soos ek haar noem, was ook daar in my plek. Blykbaar was die geleentheid baie lekker en die skrywers is almal 'n Goblet Club vol talent. Ek kan nie wag om hulle eendag een vir een te ontmoet nie.

Sodra die skywery die rekeninge eendag betaal, sal ek my bes probeer om by elke geleentheid te wees.

Dis lekker aan hierdie kant van die wêreld, maar soms.. net soms ... té ver Oos.

Wednesday, October 24, 2007

Die Betelneut

OOS begin sommer in Stuk 1 met die betelneut kultuur. Dit is so eie aan Taiwan soos wat die betelneut meisies is. Hier is 'n paar fotos om die kultuur 'n bietjie beter te verduidelik:


Die betelneut groei aan hierdie hoë bome wat baie soos palmbome lyk. Dié bome staan die hele Taiwan vol en hulle verskaf 'n groot deel van Taiwan se ekonomie. Tog is die wortels baie vlak en die bome is baie sleg vir gronderosie.





So lyk die neute nadat dit voorberei is.

Hier is 'n paar fotos van betelneutmeisies:
(Sneeuwitjie en die Glaskas)




Tobie Obenshaw, 'n Suid-Afrikaner hier in Taiwan het baie navorsing en fotos oor dié meisies. Kyk gerug 'n bietjie na van sy werk:




Saturday, October 13, 2007

Ek was vreeslik opgewonde om hierdie artikel op die Internet te kry vandag. Ek weet nie wie verantwoordelik was vir die resensie nie, maar dis soveel beter gesê as wat ek ooit kon:

Dit is die bittersoet verhaal oor die ervaringe van ’n groep Suid-Afrikaners wat tydelik in Taiwan werk. Dit is ’n eksotiese verhaal, nie net as gevolg van die ruimte waarin dit afspeel nie, maar ook op grond van die ekstreme van uitbundige sentiment en die donker ondertone daarvan – dit s ’n oorvloedige ruiker van kleur en intrige.
Die verteller, Louis, kom in Taiwan aan om vir laerskoolleerlinge Engels te gee. Sy enigste kontak in hierdie wildvreemde land is ’n internet-vriend wat hom bekend gestel het aan die moontlikheid om in Taiwan Engels te gee. Deur hierdie kontak kom hy in aanraking mat ’n klomp jong Suid-Afrikaners en hul Chinese vriende, en dit is hoe hy bekend gestel word aan ’n absoluut vreemde kultuur en gewoontes wat vir hom die raarste gewoontes is wat hy nog teëgekom het. Hierdie ryk en vermaaklike ontdekkings word egter onderlê deur ’n dieper en uiteindelik ook ’n donkerder soektog. Die groep vriende moet ’n greep op eie identiteit kry, asook op die skimme wat by hulle sal bly spook so lank as wat hulle van die een tydelike werk in ’n wildvreemde land na die ander weghardloop. En niks benadruk dit sterker nie as die blootstelling aan van Taiwan se donkerder werklikhede – die voortdurende bedreiging van ’n aanval deur China en die sluimerende gevaar van ’n aardbewing. Die verhaal word egter nooit somber nie. Dit is ook ’n tere liefdesverhaal, ’n verhaal oor vriendskap en lojaliteit. Dit is tot barstens toe vol uitbundige, jeugdige geskerts, en is ’n vreugdevolle viering van die lewe en sy ingewikkeldhede.
*
A bittersweet tale of a group of South African youngsters’ experiences while working temporarily in Taiwan. It is an exotic tale, not only in the setting but also in the extremes of vivacious sentiments and their dark undertones, a sumptuous bouquet of colour and intrigue.
The narrator, Louis, arrives in Taiwan to teach English to Chinese speaking kids. His only contact in this foreign country is an Internet friend who introduced him to the idea of teaching in Taiwan. Through this contact he meets a group of South African youngsters and their Chinese friends, and that is how he gets acquainted with a completely strange culture and what is to him the most outlandish customs. This rich and amusing discovery is, however, underpinned by a deeper and eventually also a darker exploration. The group of friends have to come to grips with their own identities, and the phantoms that would haunt them for as long as they keep running from the one temporary occupation in a foreign country to the other. And nothing emphasises this more clearly than the exposure to some of Taiwan’s starker realities – the continuous threat of an attack from the mainland and imminent danger of an earthquake. But the tale never gets gloomy. It is also a tender love story, and a tale of friendship and loyalty. It abounds with exuberant, youthful banter, and a joyous celebration of life and its intricacies.

Meer oor die ander wenners kan gelees word by:

http://nb.book.co.za/2007/10/11/book-launch-the-five-fruits-of-the-ek-is-n-skrywer-programme/

Thursday, October 4, 2007

Tifone

Louis van Jaarsveld vertel van hoe tifone die arme Taiwan teister sommige seisoene. Hierdie jaar (2007) het ons meer as 5 tifone gehad wat 'n direkte impak op Taiwan gehad het. Die nuutste supertifoon, Krosa ('kraanvoël' in Khmer) het 'n perfekte oog gehad. Dis fasinerend om so iets te aanskou. Dié storms is gewoonlik 'n goeie 10 maal groter as die eiland self en lyk vreesaanjaend.




Krosa het fratswinde wat tot 63 meter per sekond waai. Dit is min of meer so 230 km/h. Glo vir my, so 'n wind gooi jou behoorlik van jou scooter af. En daarom is dit maar beter om binne te bly gedurende so tyd.



Meeste mense bly aan die Weskus en daarom slaan so 'n tifoon gewoonlik in die berge vas. Die mense aan die Ooskus kry baie skade met so iets. Dit laat my net weer dink hoe gelukkig Suid-Afrika is. Ons is een van dit min lande wat geen natuurlike peste soos dié het nie.

Saturday, September 29, 2007

Louis en die wit lig

Terwyl ek aan OOS gewerk het, het hierdie liedjie van die groep SIMPLE PLAN uitgekom. Dit is my tema liedjie vir die eerste hoofstuk. Hier is die woorde asook die musiek video op youtube.



Simple Plan - How could this happen to me?

I open my eyes
I try to see but I'm blinded by the white light.
I can't remember how,
I can't remember why,
I'm lying here tonight,
And I can't stand the pain,
And I can't make it go away,
No I can't stand the pain.

*CHORUS*
How could this happen to me?
I've made my mistakes,
Got nowhere to run,
The night goes on, as I'm fading away.
I'm sick of this life.
I just want to scream,
"How could this happen to me?"

Everybody's screaming,
I try to make a sound but no one hears me.
I'm slipping off the edge.
I'm hanging by a thread.
I want to start this over again.
[How Can This Happen To Me lyrics on http://www.metrolyrics.com]

So I try to hold,
On to a time when,
Nothing mattered.
And I can't explain,
What happened and I can't erase the things that I've done.
No I can't.

*CHORUS*
How could this happen to me?
I've made my mistakes,
Got nowhere to run,
The night goes on.As I'm fading away,
I'm sick of this life.
I just want to scream,
"How could this happen to me?"

I've made my mistake,
Got nowher to run,
The night goes on. As i'm Fading away,
I'm sick of this life.
I just want to scream,
"How could this happen to me?"

Die Vrug

Om 'n passie te hê vir enige ding, is nie moeilik nie. Om iets kreatiefs te skep met daardie passie is makliker gesê as gedaan. Op 27 September het ek moeg van die werk af terug in my Taiwanse woonstel ingestap. Lang dag. Voor my op die tafel het 'n pakkie gelê.

My maag het gedraai. Dit kan nie wees nie. Is dit wat ek dink dit is? Gretig het ek die pakkie oopgeskeur en binne het die vrug van jare se werk gelê. My eerste roman.

Kyk, daar is min gevoelens in die wêreld wat so iets top. Kom ek deel net eers iets van myself. Die dag toe ek graad vang, was ek die enigste een wat nie werklik geglimlag het van oor tot oor nie. Toe ek daar staan met daai papier met nét my naam en graadnaam op, was ek woedend. Sommer baie kwaad. Waar presies staan hoeveel ure ek in daai bib moes struggle? Waar staan presies met hoeveel moeite ek my skripsie geskryf het? Hoekom noem hulle nie eers die verskil van 'n 50% en 'n 79% nie?

Maar OOS was anders. Ek het my baba, my nuwe skepping in my hand vasgehou. Dit was dikker as my graad en deurtrek met 'my woorde'. Dit vertel 'n storie waaroor ek passievol is. En daarom het net een woord in my kop opgekom: accomplisment. Verskoon die Engels, maar hier in die Verre Ooste dink ek bitter min in Afrikaans.

Ek hoop van harte dat OOS julle harte kan raak en dat julle die boek sal geniet soveel soos wat ek dit geskryf het.

Marion.